Somerset Sneeukop Stap

Johann het na die stap gevra dat ek ‘n paar woorde neerpen vir hulle nuusbrief. Hier volg dit.

Stappers

Ons was drie en ‘n halwe paartjies gewees. Die groepleier was my skoolmaat Cornelius Weyers. Sy vrou Marike moes ongelukkig die stap mis agv haar MBA verpligtinge. Vandaar die halwe paartjie. Die ander was Cornelius se skoonouers en ervare stappers, Johann en Erica Benkenstein. Dan ek en my vrou — Nico en Valerida Coetzee. En ons vriende uit die noorde — Neville Lahner en Ashleigh Bell, wat sopas van Sandton na Stellenbosch verhuis het.

Naweekplan

Ons wou ‘n naweek hiervan maak en het die Vrydagaand al na die hut gegaan. Vir bietjie spanbou om die kampvuur. Dit was ‘n bak plan. Ons het die Vrydag na werk weggemaak van Stellenbosch na Somerset-Wes. En het beplan om Saterdag na die stap ook oor te bly. Geen selfone. Net die natuurskoon.

Na die hut

Om by Johnson Hut uit te kom draai jy vanuit Lourensfordweg in by die plaas Vergelegen. Nadat jy ingeteken het by die hek is die seker nog so 5km tot by die hut, maar jy kan amper tot bo ry. Dis net die laaste ±1km wat jy moet stap. Die ryery is egter nie so eenvoudig nie — die pad vurk keer op keer en jy moet kophou om by die parkeerplek naaste aan die hut te kom. Doen jouself ‘n guns en loer vooraf op goo.gl/maps/SXF5q. Of bel vir Cornelius.

Vrydagaand

Dit was koud. Maar toe ons by die berghut kom was daar ‘n vuurwarm bergwind. Lieflik. Dit het die uitsig gekomplimenteer. Jy kyk uit oor die hele Valsbaai, met al sy liggies. En daars ‘n gloed wat skyn teen die berg agter die hut — so as jy omdraai sien jy die silhouette van die Hottentots-Hollandsberge teen die see.

Moet net nie so meegevoer raak dat jy nie meer fokus rondom die vuur nie – muskeljaatkat en sy vriend kom loer dit heeltyd in. So hou jou braaivleis dop. En drink maar ‘n glasie wyn, jy gaan dit die volgende dag nodig kry.

Johnson Hut

Die fasiliteit is uitstekend. Dubbelverdieping. Droë hout. Groot vuurmaakplek. Gaslamp. Breekware en eetgerei genoeg vir die Helderberg. Toiletpapier. Kampstoele. Roetekaarte. Boeke. Ek kan nie aan ‘n enkele ding dink wat ontbreek nie. Welgedaan. Gaan kyk self op https://sites.google.com/site/mcsahot/johnson-hut.

Geriewe

Cornelius het ‘n vet eis gemaak deur te sê die long drop is beter is die Otterpad s’n. Ek moet bieg, ek was hoogs beïndruk. Dit was in alle opsigte beter — behalwe as dit reën, want dis oop. Maar ‘n beter uitsig gaan jy nie sommer kry nie. En net aan die anderkant van die hut is daar ‘n swempoel en ‘n klein watervalletjie. Verfrissend, veral in die winter.

IMG-20140526-WA0003

Dis tyd

Ons het beplan om so 08.00 te begin stap. Neville hulle het nie die Vrydagaand oorgeslaap nie en eers die Saterdagoggend ge-arriveer. Hy het stellig vir elkeen ‘n skoot old brown sherry ingejaag vir moed. Net na 08.00 was almal se veters vas en die partytjie kon begin. Die dames het besluit om vir Erica by die hut geselskap te hou.

So dis toe net die 4 mans wat gaan stap. Ons moes stellig omdraai vir ‘n foto oppad uit — Neville was van mening dis die foto wat later op Sky News sou verskyn nadat ons verdwaal het in die berg, want in die agtergrond was daar onheilspellende reënwolke.

Die roete

Die eerste ±2km is kinderspeletjies. Jy loop op ‘n grondpad. Ek het verlang na my bergfiets. Dan kom jy by ‘n stroompie en kies koers na regs tussen die bome in. Geen pad — net ‘n rivierloop en ‘n klompie kilometers vertikaal op in die kloof wat voorlê. Die eerste helfte klim jy langs water, en die tweede deel oppad boontoe is meer oop.

Enkel, asseblief

Mens kan seker hierdie stap met tekkies aandurf, ek het, maar dis nie aan te beveel nie. Gebruik ordentlike stapskoene, iets wat jou enkels ordentlik beskerm, want die kans om skeef te trap is volop. So ek het vining vir my ‘n stok opgetel en soos Gandalf voortgesit.

Op en op

Elkeen het maar sy eie pad gekies in die kloof op. Almal naby aan mekaar en in sig. Ons het die water links en regs gekruis soos die pad makliker gelyk het. Na elke paar minute kan jy terugkyk en sien hoe jy nog ‘n paar meter hoër bo seespieël uitstyg. Ons het so halfpad teen die water op gestop vir ‘n vinnige versnapering. En soos wafferse bobbejane op die klippe gesit en staar na onder. Die uitsig was asemrowend.

Voorwaarts

Na nog ‘n ruk se klim het ons die einde van die water bereik. Dit beteken die eerste helfte is amper klaar. Die ooptes was plek-plek moeilik as die klim in die rivierloop, want jy weet nie wanneer trap jy deur ‘n stuk bosbedekking in ‘n gat nie. So die stapstok het handig te pas gekom. Ek het teen daai tyd lankal ‘n emosionele band met my stok gevorm en hom Wilson gedoop. Hoop nie Tom Hanks neem aanstoot nie.

O, Gids

Cornelius het homself baie goed van sy taak gekwyt. Hy let mooi op na sy stappers en kyk dat elkeen in die kraal kom. Ons het darem vrywarings geteken. En sy tydsberekening was onverbeterlik. Tydens ons tweede blaaskans het daar binne minute ‘n misbank oor die berg kom hang. Daar is toe besluit dis tyd om terug by die hut te kom.

Af en af

So toe mik ons terug na die bruggie en daal weer af, min of meer soos ons gekom het. Die afklim het effens stadiger gevoel. Ek dink dit was Wilson se skuld, hy wou nie saamwerk nie. Maar kort voor lank was ons terug by die brug en weer op die grondpad. Teen daai tyd het die reënwolke reeds ‘n voorsmakie gegee vir wat gaan volg. Die wind was baas op die grondpad. Ek moes ‘n vlieër gebring het.

Terug by die hut

Oppad hut toe het ons begin vuurmaakhout opgaar. Daar aangekom het ons dadelik ‘n vuur gemaak. Ek het vir Wilson ge-offer as fynhout. En toe maak die hemel oop. Behoorlik gereën. Perfekte tydsberekening — in daai weer wil jy nie in die berg wees nie.

Dit was toe nie nodig om ons foto vir Sky News aan te stuur nie. Ons het dadelik begin wyn drink. En later die Stormers-Cheetas rugbywedstryd op die selfoon geluister — ek dink nie ons gids kan verantwoordelikheid neem vir die 33-0 oorwinnig nie, maar hy was darem reg oor die long drop. Daai aand het die storm voortgeduur. Mens slaap immers op jou beste wanneer jy beskut voor die vuur lê en dit storm buite.

Ten slotte

Dis nie so erg nie. Maar moenie dat die kort afstande jou flous nie. Dis op en af. Ek verkies die klim enige dag — dis veiliger en ligter op jou gewrigte. En afklim in die reën is gevaarlik. Gelukkig is die hut so goed ingerig dat as die weer sleg draai kan jy altyd tuisbly en die naweek net daar geniet.

So wanneer doen ons dit weer?


Johnson Hut (Hottentots Holland Section)

IMG-20140526-WA0002The hut is located on the Vergelegen estate near Somerset West. It is nestled at the foot of the Hottentots Holland Mountains, with access to kloofs and peaks. It is around 1 hours’ drive from Cape Town. Walk-in time to the hut is 15 minutes. Activities include hiking and rock climbing. The hut has space for 20 mattresses plus 12 people in tents.

Lees meer hier.

Krediet vir die Gandalf prent: http://www.deviantart.com/art/You-shall-not-pass-343521044.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *