Hoop jy vind hierdie amusant. Ek het al beter dae beleef. Leer uit my foute.
Woensdagmiddag 4pm, Sandton. Ek ry van die kantoor af om vir Henrico by die Gautrein te gaan oplaai, want hy kom kuier vir die naweek. Ek is haastig om hom weer af te laai, want ek wil voor 5pm weer terug wees by die kantoor wanneer die mark toemaak. Maar terselftertyd moet ek gehoor gee aan my maag en ‘n paar hongerpyne stil, so die vinnigste oplossing is om ‘n ‘n cup-of-soup in te werk.
Hierin lê die probleem. Elke keer wat ek ‘n cup-of-soup aanmekaarslaan, vorm daar ‘n groot onopgeloste klont op die bodem van die beker. Nou is dit tyd om die ding ‘n slag ordentlik te roer, soos vir ‘n protein shake — met die blender.
Enige iemand wat op skool wetenskap gehad het moes teen hierdie tyd reeds ‘n wenkbrou lig. Ek was egter haastig en het nie mooi gefokus nie so gooi toe sommer die soppoeier in die blender, saammet ‘n ruim porsie kookwater.
Ek sit die deksel op en draai die skakelaar.
Kaboom. ‘n Sop-sampioen ontplof in die rigting van die ceiling. Dit lyk soos iets uit ‘n tweede-wêreldoorlog-movie. Die blender se deksel het afgeskiet en die mengsel het uitgebars oor die hele kombuis. Soos Jack Parow. Van die dak tot die grond.
Ek uiter ‘n paar kragwoorde. Dit help nie. Ek moes seker dankbaar wees vir die beskerming wat my baadjie gebied het. Dit moes egter summier wasmasjien toe, tesame met alles anders waarin ek geklee was.
Dit is moeilik om met woorde te beskryf watter gemors nagelaat is. Die ketel. Die toaster. Die snackwicher. Die kombuisskaal. Die spice rack. So kan ek heeldag aanhou. Ek moes die appels een-vir-een afdroog.
Ek het vandag weereens besef daar is net een vertrek waarin ek slegter is as in die garage — en dis die kombuis. Mens sou sweer die blender val in dieselfde kategorie as power tools.
Ek moes dit egter sien kom het, ek het immers al ‘n oormaat ervaring op die gebied. Vuurspuwende fudge en dies meer. Dit goed kook mos eers oor wanneer jy die warm mengsel met ‘n houtlepel penetreer. So moenie die warm partikels versteur nie. En die ironie van die saak is dat my pa ‘n wetenskap-onderwyser was. Hy sou so trots wees.
PS, moenie hierdie vir Santam forward nie, anders gaan my premie weer op. Ek is mos ‘n risiko.
2 Comments
Add YoursPuik beskrywings. lag nou nog vir die petalje.
“Ek moes die appels een-vir-een afdroog…. “